Japannese letterkunde

Japannese letterkunde is die liggaam van geskrewe werke wat deur Japan se skrywers in Japannees gebesig is, of anders gestel- wat in sy vroegste beginjare, in 'n tydgleuf waarin Japan geen geskrewe taal gehad het in die Chinese klassieke taal nie - gebruik was.

Wat beide hoeveelheid, en kwaliteit, betref, is die Japannese letterkunde een van die belangrikste literatuurbronne en-skatte in die wêreld, vergelykbaar in ouderdom, rykheid van idioom, en omvang, tot die grootste letterkundige bewegings, alhoewel die ontwikkeling daarvan heeltemal anders verloop het.

Die werke wat oorleef het, behels 'n literêre tradisie wat vanaf die 7de eeu tot die hede strek; en gedurende hierdie tyd was daar nooit wat genoem kan word 'n "donker tydperk" sonder enige literêre produksies nie. Nie net het poësie, die roman en die drama 'n lang en deurleefde geskiedenis in Japan nie, maar sommige literêre genres wat nie so hoog geag word in ander lande nie, insluitende dagboeke, reisverhale en boeke van willekeurige gedagtes, is ook prominent.

Die aansienlike getal skrywes van Japannese in die Sjinese klassieke taal (van veel groter omvang en belang as vergelykbare Latynse geskrifte deur Engelse skrywers) getuig van die groot Japannese verskuldigheid aan Sjina, wat die literatuur betref.

Selfs die geskrifte wat geheel en al in Japannees geskryf was, bied 'n buitengewone verskeidenheid style aan, welke nie net in terme van die natuurlike evolusie van die taal verklaar kan word nie.

Sommige style was deurlopend en duidelik beïnvloed deur die oorheersing en belangrikheid van die Chineese woordeskat en sintaksis, maar andere het ontwikkel in reaksie op die interne vereistes van die verskillende genres, of dit nou die teerheid van die haikoe ('n gedig in 17 lettergrepe) was, of die bombasme van die dramatiese resitasie.

Die probleme met die lees van die Japannese letterkunde kan skaars oordryf word; en selfs 'n spesialis sal waarskynlik moeilikhede ondervind om 'n spesifieke werk van dié van 'n ander tydperk of genre te onderskei. Die Japannese styl het deurlopende dubbelsinnighede bevat, en die spraakdeeltjies wat nodig was vir die eenvoudige begrip van 'n stelling was dikwels as onnodig of as te puristies beskou.

Soms is die enigste leidraad betreffende die onderwerp of voorwerp van 'n sin die vlak van beleefdheid waarin die woorde geplaas word; Byvoorbeeld, die werkwoord mesu (wat beteken om te eet, om te dra, om in 'n kar te ry, ens.) dui bloot 'n handeling aan wat deur 'n gesiene persoon uitgevoer word.

In baie gevalle is die begryp van 'n eenvoudige sin afhanklik van vertroudheid met die agtergrond van 'n bepaalde tydperk. Die werkwoord miru, om te sien, het in die 10de en 11de eeu gelykenisse vertoon met om 'n verhouding te hê met, of selfs om te trou tydens die Heian-tydperk, toe mans oor die algemeen net vroumense kon sien nadat hulle intiem geword het.

Die lang tydperk van Japannese isolasie in die 17de en 18de eeu het tot gevolg gehad dat die literatuur baie provinsiaals was, oftewel slegs verstaanbaar vir persone wat 'n gemeenskaplike agtergrond het; byvoorbeeld; die uitdrukking 'n bietjie rook het luidrugtig opgedraal (kemuri tachisawagite), was die enigste aanleiding wat lesers van die laat 17de eeu nodig gehad het om te besef dat 'n skrywer verwys na die Groot Vuur van 1682, wat die Shogunale hoofstad van Edo (die moderne stad Tokio vernietig het.

Ten spyte van die probleme wat voortspruit uit sulke eienaardighede of idiosinkrasiteite, is Japannese letterkunde van alle tydperke, besonder aantreklik vir moderne lesers, of dit nou in die oorspronklike vorm of in die vertaling gelees word.

Aangesien dit meestal subjektief is en gekleur is deur 'n emosionele, eerder as intellektuele of moralistiese toon, het die temas 'n universele gehalte wat byna onaangeraak is deur tyd.

Om 'n dagboek deur 'n Japannese hofdame van die 10de eeu te lees, is nog steeds 'n verrykende en genotvolle ervaring, want haar diepste gevoelens word met soveel eerlikheid en intensiteit beskryf, wat as't veroorsaak dat die hedendaagse leser die diskrepansie en afstandelikheid wat deur die verloop van tyd en die geskiedenis veroorsaak is, kan vergeet, en die verskille in sosiale gebruike oor die hoof kan sien wat haar wêreld van vandag se wêreld skei.

Die "suiwer" Japannese taal, onbesmet deur Sjinese invloed, het merkwaardig min woorde van 'n abstrakte aard bevat. Net soos Engels woorde soos moraliteit, eerlikheid, geregtigheid en dies meer uit die vasteland geleen het, het die Japannese hierdie terme van Sjina geleen. Alhoewel die Japannese taal gebreke getoon het betreffende die woordeskat wat geskik is vir 'n Konfúsiese essay, kon dit aan die ander kant byna oneindige skakerings van emosionele inhoud uitdruk.

'n Japannese digter wat ontevrede was met die beperkings wat deur sy moedertaal neergelê is; of wat nie-emosionele begrippe wou beskryf - of dit nou die rustige wandeling van 'n bejaarde aan 'n rivier was; of die digter se bewustheid van sy onbeduidendheid teenoor die grootsheid van die heelal - het van nature gegraviteer daarna om poësie in die Sjinese taal te skryf. Vir die grootste deel het Japannese skrywers; ver van die verwagting dat hulle ontevrede sou voel met die uitdrukkingsmoontlikhede wat deur die beperkinge van hul taal opgelê is; oortuig daarvan geraak dat 'n virtuose perfeksie in frasering, en 'n akute verfyning van sentiment, belangriker was vir poësie as die uitspraak van intellektueel bevredigende konsepte.

Vanaf die 16de eeu is baie woorde wat van die Japannese poësie uitgesluit is weens hul vreemde oorsprong of hul nederige betekenisse; na aanleiding van die voorskrifte van die "kodes" van poëtiese diksie wat in die 10de eeu gevestig is; ingesluit deur beoefenaars van die haikoe, welke oorspronklik 'n ikonoklastiese, gewilde versvorm was. Hierdie kodes van poëtiese diksie, vergesel van 'n aansienlike liggaam van kritiek, het die skepping van 'n akute literêre sensitiwiteit tot gevolg gehad, veral gevorm en gekoester deur die tradisies van die Hof, en is gewoonlik saamgestel deur die voorste digters of dramatiste self. Hierdie kodes het 'n remmende effek op nuwe vorms van literêre samestelling uitgeoefen, maar hulle het ook gehelp om 'n kenmerkende aristokratiese toon te behou. Die Japannese taal self het ook poëtiese instrumente en vorme gevorm. By Japannees ontbreek 'n spanningsaksent en betekenisvolle rym (alle woorde eindig in een van vyf eenvoudige vokale), welke twee tradisionele kenmerke van poësie in die Weste is.

Daarteenoor word poësie in Japannees onderskei van prosa, hoofsaaklik omdat dit bestaan uit wisselende lyne van vyf en sewe lettergrepe. Nietemin, as die intensiteit van emosionele uitdrukking laag is, kan hierdie onderskeid alleen nie 'n gedig daarvan red om in prosa te verval nie.

Die moeilikheid om 'n hoë vlak van poëtiese intensiteit te handhaaf, mag verantwoordelik wees vir die verkieslikheid van kortvers vorms wat met perfeksionistiese sorg geskryf kan word. Maar, hoe hartroerend 'n tanka dan ook mag wees, (vers in 31 lettergrepe) kan dit duidelik nie die funksies vervul van langer poëtiese vorme nie. Daar is ook geen Japannese ekwivalente tot die lang, epiese gedigte van die Westerse letterkunde soos bv. John Milton se Paradys Verlore, N.P. van Wyk Louw se Raka of Dante Alighieri se Die Goddelike Komedie nie. In pleks hiervan, het die Japannese digters hul pogings daartoe gewend om elke lettergreep van hul komposisies te verbeter, die inhoud van 'n tanka deur voorstelle en toespeling uit te brei, en skakerings van toon en diksie meer aan te prys as oorspronklikheid of vryheid van uitdrukking.

Die vloeibare sintaksis van die prosa beïnvloed nie net styl nie, maar ook inhoud. Japannese sinne is soms van buitengewone lengte, reagerende op die subjektiewe draaie en verwringing van die skrywer se gedagtewêreld; en gladde oorgange van een stelling na die volgende, eerder as strukturele eenheid, word beskou as die merk van uitstekende prosa. Die langer werke toon dienooreenkomstig by tye 'n gebrek aan algehele struktuur van die soort wat in die Weste geassosieer word met Griekse konsepte van literêre vorm, maar bestaan in pleks daarvan uit episodes wat chronologies of deur ander assosiasies verbind is.

Die probleme wat Japannese skrywers ondervind om hul indrukke en persepsies in volgehoue werke te organiseer, kan die ontwikkeling van die dagboek en reisverhaal help verduidelik, genres waarin opeenvolgende dae of die opeenvolgende stadia van 'n reis 'n struktuur bied vir andersins nie-verwante beskrywings. Japannese letterkunde bevat sommige van die wêreld se langste romans en toneelstukke, maar die genialiteit daarvan word die beste in die korter werke vertoon, hetsy dit nou die tanka, die haikoe, die Noh opvoering, of die poëtiese dagboeke is.

Japannese letterkunde toon baie direkte invloede uit Sjina, maar die kenmerkende literêre werke is opvallend verskillend. Die tradisie van vroulike skryfwerk, veral van sulke introspektiewe werke soos dagboeke, het 'n unieke skakering aan Japannese prosa gegee wat heeltemal anders is as die meer objektiewe, manlike Sjinese geskrifte. Alhoewel die Japannese (selfs deur sommige Japannese) gekritiseer is vir hul nabootsing van Sjinese voorbeelde, vooruitdateer die vroegste Japannese romans eintlik hul Sjinese eweknieë met eeue, en die Japannese teater het inderdaad onafhanklik van Sjinese invloede ontwikkel.

Omdat die Sjinese en Japannese tale nie verwant is nie, het Japannese digkuns natuurlik verskillende vorme geneem, alhoewel Sjinese poëtiese voorbeelde en literêre teorieë dikwels in die gedagtes van die Japannese digters aanwesig was. Japannees en Koreaans mag verwante tale wees, maar Koreaanse literêre invloede was onbeduidend, hoewel die Koreane 'n belangrike rol gespeel het in die oordrag en verplanting van Sjinese literêre en filosofiese werke na Japan. Poësie en prosa wat in die Koreaanse taal geskryf is, was vir die Japannese tot relatief onlangs heeltemal onbekend.

Van die 8ste tot die 19de eeu het Sjinese letterkunde meer prestige onder geleerde Japannese geniet as hul eie letterkunde; maar hul liefde vir die Japannese klassici, veral dié wat in die Hof in die 10de en 11de eeu geskryf en of gekomponeer is, het geleidelik tussen die hele volk versprei en letterkundige uitdrukking in elke vorm beïnvloed, selfs die liedjies en verhale deur nederige mense wat totaal verwyderd van die aristokratiese wêreld was.

Die eerste literatuurkuns in Japannees is meegebring deur beïnvloeding uit Sjina. Die Japannese was nog steeds relatief primitief en sonder 'n literêre korpus, toe kennis van die Sjinese beskawing hul geleidelik in die eerste vier eeue AD begin bereik het. Spoedig is baie kenmerke van hierdie beskawing geassimileer, en die Japannese skrifgeleerdes het Sjinese karakters as 'n skryfstelsel aangeneem, alhoewel 'n alfabet (as een beskikbaar was) vir die Japannese taal oneindig meer sou beteken en daarvoor geskik sou wees. Die karakters, wat eers ontwerp is om Sjinese eenlettergrepige begrippe voor te stel, kon slegs met groot vindingrykheid gebruik word om die agglutinatiewe vorme van die Japannese taal voor te stel. Die uiteindelike gevolg was chaoties, wat aanleiding gegee het tot een van die mees ingewikkelde skryfstelsels wat ooit uitgevind is. Die gebruik van Sjinese karakters het die uitdrukkingswyses baie beïnvloed en het gelei tot 'n assosiasie tussen literêre samestelling en kalligrafie wat eeue lank geduur het.

Die vroegste Japannese tekste is in Sjinees geskryf, aangesien geen sisteem van transkripsie van die klanke en grammatikale vorme van Japannees toe al uitgevind was nie. Die oudste bekende inskripsie, op 'n swaard wat dateer van ongeveer 440 AD, het reeds 'n mate van normale Sjinese gebruik getoon ten einde Japannese name en uitdrukkings te kon skryf. Die mees akkurate wyse om Japannese woorde te skryf was om Sjinese karakters nie vir hul betekenisse te gebruik nie, maar om hul fonetiese waardes, wat elke karakter 'n uitspraak gegee het wat ooreenstem met die Sjinees. In die oudste bestaande werke, die Kojiki (712) en Nihon Shoki, of Nihon-gi (720; Kronieke van Japan van die vroegste tye tot 697 AD), word meer as 120 liedjies, sommige wat gedateer kan word tot die 5de eeu nC, in fonetiese transkripsie gegee, ongetwyfeld omdat die geluide en artikulasies vir die Japannese baie belangrik was.

In hierdie twee werke, beide as amptelike "histories" van Japan bekend, is baie afdelings geheel en al in Sjinees geskryf; maar dele van die Kojiki was saamgestel uit 'n ingewikkelde mengsel van tale wat somtyds van die Sjinese karakters vir hul betekenis gebruik gemaak het, en somtyds vir hul klank.

Die Kojiki, hoewel vereer as die oudste dokument aangaande die mites en geskiedenis van die Japannese, was nie in literatuurversamelings ingesluit nie tot ten minste die 20ste eeu. Die mites in die Kojiki is somtyds betowerend, maar die enigste ware literêre dele van die werk is die liedjies. Die vroeë liedere het nie 'n vaste metriese vorm nie;en die lyne, bestaande uit 'n onbepaalde aantal lettergrepe, is uitgerek tot onreëlmatige lengtes wat geen begrip van poëtiese vorm toon nie. Sommige liedere is blykbaar herwerk, miskien toe die manuskrip in die 8ste eeu getransskribeer is na wat die klassieke Japannese versvorm sou word naamlik, die tanka (kort gedig), bestaande uit vyf reëls van vyf, sewe, vyf, sewe , en sewe lettergrepe.

Verskeie poëtiese instrumente wat in hierdie liedjies gebruik word, soos die makura kotoba ('kussingswoord'), 'n soort vaste sobriquet, het 'n kenmerk van latere poësie gebly. Altesaam 500 primitiewe liedere is in verskeie versamelings bewaar. Baie beskryf reise, en vertoon 'n fassinasie met plekname, wat sigbaar is in die liefdevolle opsomming van berge, riviere en dorpe met hul profetiese byname. Die liedere was tot groot skaal ontwikkel in die gazetteers (fudoki), en saamgestel in die 8ste eeu. Hierdie werke, van slegs verbygaande literêre belang, bestee baie aandag aan die volksoorsprong van verskillende plekname, sowel as ander plaaslike legendes.

'n Pragtige poësiebundel, die Man'yōshū (saamgestel na 759, Tien Duisend Blare), is die enkele grootste literêre monument van die Nara-tydperk (710-784), alhoewel dit poësie bevat wat in die vorige eeu geskryf is, indien nie vroeër nie. Die meeste van die 4.500 of so gedigte bestaan uit tanka, maar die meesterstukke van die Man'yōshū is die 260 chōka ("lang gedigte"), wat tot 150 lyne in lengte is en in die vorm van alternatiewelike lyne van vyf en sewe lettergrepe gegiet is, gevolg deur 'n afsluitende lyn in sewe lettergrepe.

Die amplitude van die chōka het die digters toegelaat om temas te behandel wat onmoontlik binne die kompas van die tanka tuishoort - of dit nou die dood van 'n vrou of kind is, die glorie van die keiserlike gesin, die ontdekking van 'n goudmyn in 'n afgeleë provinsie of die las van militêre diens.

Die grootste van die Man'yōshū digters, Kakinomoto Hitomaro, het in die laat 7de en vroeë 8de eeu as 'n soort digter-laureaat gedien; wat die hofhoofde tydens hul uitstappies voorsien het van odes en klaagliedere vir oorlede familielede van die keiserlike familie.

Moderne akademici het al gepostuleer dat die chōka as satanuitdrywing van die dooies ontstaan het, en die geeste van pasgestorwe persone kon uitdoof deur hul dade te herhaal en te belowe dat hulle nooit vergeet sal word nie. Sommige van Hitomaro se meesterwerke beskryf op so 'n oortuigende wyse die glorie van prinse of prinsesse wat hy nooit ontmoet het nie, dat enige verskille tussen "openbare" uitdrukkings van verdriet, en sy persoonlike gevoelens, vervaag. Hitomaro se chōka is uniek in die Japannese poësie, danksy hul uitstekende kombinasie van beeldvorming, sintaksis en emosionele krag. Dit is inderdaad werk van manlike uitdrukkingskrag. Hy het egter in sy tanka gewys dat hy ook in staat was om die aantreklike, vroulike eienskappe, tipies van die latere Japannese poësie, te vergestalt.

Die chōka het dikwels met een of meer hanka ("gesante") gesluit wat die sentrale punte van die vorige gedig hervat. Die hanka wat deur die 8de-eeuse digter Yamabe Akahito geskryf is, is so perfek ontwerp dat die chōka wat hulle voorafgaan soms onnodig lyk. Die versnyding en evokasie van hierdie gedigte, identies in vorm met die tanka, is baie na aan die ideale van die latere Japannese poësie. Die digters was beslis nie ongekultiveerde liedereskrywers wat in verwondering was oor die skoonheid van die natuur nie, ( 'n beeld wat dikwels deur sentimentele kritici geskilder word) maar hul emosies was sterker en meer direk uitgedruk as in die latere poësie.

Die lyk van 'n onbekende reisiger, eerder as die val van die kersiebloeisels, het in Hitomaro 'n bewustheid van die onsekerheid van die menslike lewe wakker gemaak.

Die Man'yōshū is uitsonderlik in die aantal gedigte wat buite die hof saamgestel is, hetsy deur grenswagte of persone met 'n nederige beroep. Miskien is sommige van hierdie gedigte eintlik geskryf deur hofgangers onder die dekmantel van gewone mense, maar die gebruik van dialekte en bekende beelde kontrasteer met die streng poëtiese diksie wat in die 10de eeu opgelê is. Die diversiteit van temas en poëtiese vorme onderskei ook die Man'yōshū van die meer gevestigde maar yl verse van latere tye.

In Okura se bekende Dialoog oor Armoede, byvoorbeeld, beskryf twee mans - een arm en die ander oneerlik - hul ongelukkige lot, waaruit blyk die kommer oor maatskaplike toestande; wat van die klassieke tanka afwesig sou wees. Okura se besoek aan Sjina vroeg in die 8ste eeu, as lid van die Japannese ambassade, kan die invloed van Sjinees in sy digkuns verduidelik.

Sy gedigte word ook in baie gevalle voorafgegaan deur gedeeltes in Sjinees wat die omstandighede van die gedigte aandui of Boeddhistiese parallelle noem. Die Man'yōshū is getransskribeer in 'n byna pervers-ingewikkelde stelsel wat Sjinese karakters willekeurig gebruik, soms vir betekenis en soms vir klank. Die gebrek aan 'n geskikte handskrif het waarskynlik literêre produksie in Japan gedurende die Nara-tydperk belemmer. Die toenemende belangrikheid van Sjinese poësie as die teken van literêre vervulling in die howeling, kon dalk ook die ontwikkeling van die Japannese literatuur na sy eerste bloeitydperk in die Man'yōshū onderbreek het. Agtien Man'yōshū digters is verteenwoordig in die Kaifūsō versameling (751) , 'n poësiebundel in Sjinees wat deur lede van die hof saamgestel is. Hierdie gedigte is egter slegs 'n bietjie meer verklarend en oorspronklik as die gedigte van idees en beelde wat direk vanaf Sjina geleen is. Die samestelling van sulke poësie weerspieël die enorme prestige van die Sjinese beskawing op daardie tydstip.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search